Wenke vir beter veldfotos


Wenke om beter veldfoto’s van gejagte bokke te neem

  1. Neem die foto so gou as moontlik voor die dier se pens begin opblaas.
  2. Vee alle bloed van die vel af sover moontlik en plaas die dier se tong terug in die bek indien dit uithang. Bedek ook alle bloedkolle op die grond in die onmiddellike omgewing van die bok wat dalk die foto kan ontsier.
  3. Plaas die dier mooi op sy pens en vou die bene mooi onder hom in soos wanneer ‘n dier lê en slaap. Een van die grootste foute met die sfneem van trofeë is dat die diere nie ordentlik opgestel word nie.
  4. Neem altyd die foto in die son-af rigting, nooit teen die son in nie.
  5. Verwyder alle gras en ander plantegroei voor die dier se lyf – skoffel die grond mooi skoon indien nodig. Plantegroei voor die dier se lyf of kop bederf die foto.
  6. Let op die agtergrond. Indien moontlik stel die die so op dat die horings nie “verdwyn” teen donker agtergronde soos bosse of bome nie.
  7. Die fotograaf moet nie staan en die foto skuins af na die dier en jagter neem nie.
  8. Kom op dieselfde vlak as die dier en jagter. Die fotograaf kan plat op sy boude sit. Sommige verkies om te lê maar pasop dat jy dan nie die foto opwaarts na die dier neem nie. As dit gebeur neem jy dikwels van onder af die jagter se neusgate af. Deur plat te sit is jy na genoeg aan die dieselfde hoogte as die dier en jagter.
  9. Pasop dat die skaduwee van die fotograaf nie op die bok of jagter val of êrens in die voorgrond vertoon nie. Dis veral ‘n probleem as daar vroegoggend of laatmiddag foto’s geneem word en die son reg agter die rug van die fotograaf is.
  10. Probeer die horings van die bok teen blou lug afneem, dit sorg vir ‘n mooi kontras wat die horings duidelik sigbaar maak.
  11. Die jagter moet verkieslik nie die horings of die oor van die dier vashou nie.
  12. Die jagter moet nie te laag agter die bok sit dat slegs sy kop bo die lyf uitsteek nie – anders lyk dit of die jagter aan die dier se rug vasbyt. Jagters moet altyd agter die bok stelling inneem en nooit op die bok sit of lê nie – dit skep ‘n swak indruk.
  13. Sommige mense laat die jagter ‘n paar treë agter die bok sit om laasgenoemde so groot as moontlik te laat vertoon. Dis onnatuurlik en word nie aanbeveel nie. Deur die jagter so na as moontlik agter die bok te laat sit stel jou ook in staat om beide die bok en jagter is skerp fokus te kry.
  14. Laat die jagter sy hoed verwyder want dit werp gewoonlik ‘n donker skadu oor die jagter se gesig. Indien die son te skerp is, laat die jagter sy hoed op hou en neem met ‘n flits (fill in flash) om die skadu sagter te laat vertoon.
  15. Raam die bok en jagter mooi voordat die foto geneem word. Moenie te veel van die voorgrond en omgewing afneem nie. Waak egter ook daarteen om nie dele van die bok of die jagter af te sny omdat jy die foto van te naby af neem of omdat jy te veel in “zoom” nie.
  16. Sorg dat die geweer ook mooi opgestel is en nie te veel van die bok bedek nie – veral by kleinwild soos steenbokke, duikers en springbokke.
  17. Neem verskeie foto’s en op verskillende kamerastellings.
  18. Neem ook foto’s van verskillende plekke/hoeke af. Sommige mense verkies dat die jagter nie reguit na die kamera kyk nie maar effens weg. Eksperimenteer totdat jy die regte effek kry.
  19. Gebruik ‘n kamera-driepoot indien nodig. In swak lig is dit soms nodig om die lens wyd oop te stel wat die sluiterspoed stadig maak. Stadige sluiterspoed kan daartoe lei dat die foto nie in skerp fokus is nie (met ander woorde ge-blur is) as jy die kamera met die hand vashou terwyl jy die foto neem.

We have 107 guests and no members online