Ernst Schürmann

Wyle Ernst Schürmann was meestal bekend vir die diep spore wat hy met trots in die paneelklop bedryf in Pretoria getrap het.

Maar die Boere Duitser se ware sentimente het eintlik by die natuur en jag gelê. Ernst was ‘n ywerige waarnemer van die klein dingetjies in die bos en hy het ‘n unieke passie vir voëltjies gehad.

Ernst se pa, wyle oom Willi (Wielie) Schürmann was die eienaar van die oorspronklike plaas Hoedspruit en een van die eerste privaat wildboere wat vroeër jare spesies soos basterhartebeeste, buffels en swartwitpense op privaat grond buite Hoedspruit gevestig het. Dis op hierdie plaas waar Ernst sy gesonde jagetiek en liefde vir die natuur gekweek het. Hy het terdeë besef dat jag en bewaring ten nouste verweef is.

Dit is ook hier waar Ernst en sy suster Lente as kinders paadjies met ‘n jagluiperd welpie gekruis het. Die besonderse jagluiperdwyfie se naam was Sebieka en met die destydse goedkeuring van Fauna en Flora het hul haar deels in Gezina, Pretoria en deels op die Hoedspruit plaas aangehou. Dié hondmak jagluiperd was vir 9 jaar deel van die Schürmann’s se lewe (fotos aangeheg). Sy suster, Lente Roode, is vandag sinoniem met die bewaring van jagluiperds in Suid-Afrika.

Sy seun Willi het onlangs besluit om van sy pa se jag memoribilia, trofeë en monterings af te skaal omdat die die oorspronklike Schürmann woning net té vol was. Slegs die memoribilia waarby Willi nie baie nostalgiese sentiment het nie, is vanaand beskikbaar op die veiling.

Spesifiek die Pretoria Oos Tak van die SA Jagters se betrokkenheid by die hervestiging van jagluiperds by Rietvleidam sou vir Ernst Schürmann na aan die hart gelê het.

Ernst het ook vir wyle taksidermis; Nico van Rooyen, persoonlik geken en al die monterings is deur Nico hanteer.

Een van die hoogtepunte van Ernst se jag ekspedisies was die jag van ‘n buffelbul op sy pa se plaas asook die jag van ‘n swartwitpens trofee in die noorde van Zimbabwe in 1990. Hy was tipies ‘n man wat ‘n traan van eerbied sou stort toe hy langs die mooi bul gekniel het. Die spesifieke swartwitpensbul se horings is vanaand beskikbaar op die veiling.

Ernst is in 2005 oorlede en sy oorskot is met ‘n veldwagter van Sanparke se toestemming gestrooi by die samevloeiing van die Letaba- en Olifantsriviere in die Krugerwildtuin.

Willi deel dan graag van die Schürmann’s se jag nalatenskap met ons geagte lede vanaand om so ‘n waardige bydrae tot die bewaringsfonds te maak.

We have 8 guests and no members online